Enviro Bio-Chem

Bankrotbos – ʼn Groeiende bedreiging vir Suid-Afrikaanse landbougrond

Geskryf deur Robby Pienaar

Infestasie voor beheer

Infestasie na beheer

Die stil gevaar: Bosindringing neem toe
Volgens die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, het die bankrotbos in 2019 reeds sowat 1,7 miljoen hektaar land beset. Bankrotbos was aanvanklik slegs beperk tot die Noord-Wes- en Vrystaat-provinsies, maar het met tyd so verprei dat die destydse Minister van Landbou, Senzeni Zokwana, die spesie
as ʼn bosindringer in al nege provinsies verklaar het. Vyf jaar later neem hierdie bedreiging steeds toe.

Hoewel Bankrotbos inheems aan Suid-Afrika is, het hierdie aggressiewe kompeteerder ʼn problematiese spesie geword as gevolg van die geneigdheid om natuurlike weidings te infesteer en met tyd totaal oor te neem. Hierdie probleem is reeds in die 1980’s geïdentifiseer toe die Wet op die Bewaring van Landbouverwante Hulpbronne bankrotbos as ʼn probleemspesie aangewys het, veral in die Vrystaat- en Noordwes-provinsies.

Ekologiese en ekonomiese impak:

  • Verlies aan weidingsgrond: Bankrotbos verdring natuurlike weidings, wat die dravermoë vir vee verminder.
  • Bedreiging vir biodiversiteit: Die digte groei van bankrotbos verminder beskikbare habitat en hulpbronne vir ander plant- en dierspesies.
  • Ekonomiese verlies: Boere staar aansienlike verliese in die gesig weens verminderde veeboerderyproduksie, met sommige wat selfs bankrotskap in die gesig staar – vandaar die naam “bankrotbos”.

Ontmasker die bankrotbos
Hierdie klein, veelstammige, houtagtige struik groei tipies tot 60 cm in beide hoogte en breedte. Sy liggekleurde blare is met ʼn wollerige laag bedek, wat help om water te bewaar en is daarom goed toegerus om droë seisoene te oorleef. Die wortelstelsel kan tot 1,8 m diep groei en ʼn oppervlakte van meer as 1 m² in beslag neem. Interessant genoeg word hierdie spesie wel nie gewoonlik in gebiede met minder as 400 mm se jaarlikse reënval aangetref nie.

Bankrotbos floreer ook in lae-vrugbare, ligter (sanderige) gronde, tipies op voetheuwels en middelhellings, maar is nie geneig om in swaarder gronde (kleigrond), tipies laagliggende gebiede (vleigebiede), voor te kom nie.

Die plant se aktiewe groeiperiode is vanaf Oktober tot vroeg April. Die reproduktiewe fase duur egter vanaf Desember tot einde Mei. Dit is daarom belangrik om tydige beheermaatreëls in plek te stel om die verspreiding van sade te voorkom.

Verstaan hierdie geharde indringer
Die droogtebestande aard van hierdie houtagtige dwergstruik, lewer ʼn kompeterende voordeel in droë en semi-droë streke en is daarom goed aangepas om ongunstige toestande te oorleef. Verder is bankrotbos ook oor die algemeen meer weerstandig teen droogtes, plantsiektes en insekte as baie ander plantspesies wat in natuurlike weidings voorkom.

Hierdie inherente droogtebestandheid is ook die sleutel tot die spesie se vermoë om ʼn groot aantal sade per seisoen te produseer, aangesien die plante minder afhanklik is van eksterne faktore om hul reproduktiewe fase te voltooi. Die plante se waterbesparende aanpassings laat dit verder toe om te oorleef en te floreer in droë toestande waar ander plante sukkel. Dit lei tot verminderde mededinging vir vog en voedingstowwe wat bankrotbos se groeikragtigheid en saadproduksie verder bevorder. Laastens maak bankrotbos se ligte, windverspreide sade dit moontlik vir die spesie om vinnig te versprei, met veral versteurde of oorbeweide grond wat hoogs vatbaar is vir infestasies.

Veg terug teen bankrotbos
Die beheer van bankrotbos is al vir baie lank ʼn groot besprekingspunt en verskeie beheerstrategieë word steeds aangewend om die verspreiding daarvan te bestuur. Hierdie strategieë kan breedweg gekategoriseer word as: meganiese verwydering, verbranding en onkruiddoderbespuitings. Beide meganiese verwydering en verbranding kan egter die situasie vererger indien dit nie op die korrekte manier aangewend word nie.

Meganiese verwydering: ʼn Oefening wat saad versprei?
Meganiese verwydering van bankrotbos kan lei tot die verspreiding van sade, aangesien die plant groot hoeveelhede windverspreide sade produseer wat lewensvatbaar in die grond bly. Die verwydering van volwasse plante kan hierdie sade verstrooi, wat nuwe infestasies skep.

Onvolledige verwydering, wat wortels agterlaat, kan ook lei tot hergroei. Dus, terwyl meganiese verwydering effektief kan wees vir die beheer van klein infestasies, kan dit ook die probleem vererger indien dit nie op
die regte manier gedoen word nie.

Brand: Stook die vuur van besmetting?
In baie gevalle word beheerde brande gebruik vir die beheer van digte bankrotbos-infestasies. Terwyl hierdie beheermaatreël tot ʼn mate effektief aangewend kan word, kan dit ook saadontkieming stimuleer. Aangesien volwasse plante groot hoeveelhede saad produseer, bou die saadbank baie vinnig op en indien hierdie sade se ontkieming
gestimuleer word, kan dit lei tot selfs digter infestasies.

Volwasse plante is ook tot ʼn groot mate brandbestand as gevolg van uitgebreide wortelstelsels, wat hergroei moontlik maak selfs al is bogrondse dele beskadig. Verbranding is dus ondoeltreffend vir gevestigde plante, tensy dit met ander strategieë gekombineer word. Dit laat chemiese beheer as ʼn deurs laggewende en dikwels hoogs doeltreffende hulpmiddel om grootskaalse infestasies mee aan te pak.

Effektiewe chemiese beheer: Enviro Bio-Chem se AMBITION

AMBITION is ʼn wateroplosbare korrel-onkruiddoder wat geformuleer is vir die beheer van indringer- plante soos bankrotbos. Aktiewe bestanddeel: Metsulfuron Methyl (sulfonielureum) – 600 g/kg.

Waarom is AMBITION so doeltreffend?

  • Teikenaksie: AMBITION maak voorsiening vir geteikende toediening, wat die impak op omliggende gewenste plantegroei tot die minimum beperk. As gevolg van die produk se selektiewe werking kan bankrotbos geteiken word met minimum impak op natuurlike weidings.
  • Effektiewe uitwissing: Sekere onkruid- doders soos AMBITION is spesifiek geformuleer om deur die plant te translokeer om sodoende die uitgebreide wortelstelsel te bereik wat bankrotbos so robuus maak. Hierdie siste-miese aksie is van kritieke belang vir die voorkoming van hergroei om langtermyn beheer te verseker, iets wat dikwels moeilik met meganiese metodes alleen bereik kan word. Om die bos bloot te sny of te verbrand, lei dikwels tot kragtige hergroei van die oorblywende wortels.
  • Koste-effektiwiteit vir groot besmettings: Vir uitgebreide infestasies wat groot gebiede dek, kan chemiese beheer aansienlik meer koste-effektief en tyddoeltreffend wees as arbeidsintensiewe handverwydering. Die vermoë om groot gebiede vinnig te behandel kan noodsaaklik wees om verdere versprei- ding te voorkom en die ekonomiese impak van bankrotbos op weiveld te bestuur.
  • Vinnige reaksie: In situasies waar bankrot-bos waardevolle weidingsgebiede infesteer of biodiversiteit bedreig, kan AMBITION ʼn vinnige reaksie verskaf om die inval te stuit en onomkeerbare skade te voorkom. Hierdie spoedige aksie kan deurslaggewend wees om die probleem te beperk voordat dit onhan-teerbaar word.
  • Integrasie met ander metodes: Chemiese beheer kan effektief geïntegreer word met ander bestuurstrategieë. Onkruiddodertoe-diening kan byvoorbeeld gebruik word om volwasse plante te verswak voor meganiese verwydering, wat laasgenoemde meer effek-tief maak. Dit kan ook na brand of sny gebruik word om hergroei vanaf wortelstelsels te beheer en saadontkieming te voorkom.

AMBITION – Suid-Afrika, Reg. nr. L7678, Wet 36 van 1947. Aktiewe bestanddeel: Metsulfuron Methyl (sulfonielureum) – 600 g/kg. HRAC ONKRUIDDODER GROEPKODE: B. ENVIRO BIO-CHEM. Reg. houer: Erintrade cc t/a RT Chemicals. Co. Reg. nr. CK2001/036403/23. Kerkstraat 44, Lichtenburg NW, Suid-Afrika. Tel: 072 678 8226 | 078 076 3001.
E-pos: robbyp@envirobiochem.co.za. www.envirobiochem.co.za.

Scroll to Top